Erotiese digkuns en Soefisme in Rumi se werke

Elizabeth van der Berg,
DOI: https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n2b1
2023-05-26
LitNet Akademies
Abstract:Opsomming Rumi, die hoogaangeskrewe 13de-eeuse Persiese digter en Soefi-mistikus, se poësie het die afgelope dekades groot gewildheid in die Weste verwerf. Dit word ongelukkig soms deur die Westerse leser misverstaan en verkeerd vertolk as gevolg van onkunde oor sy kulturele en Soefistiese agtergrond, weens foutiewe vertalings, en ook vanweë die metaforiek, wat soms vir die Westerling vreemd mag voorkom. Hierdie artikel het ten doel om spesifiek te fokus op Rumi se benutting van erotiese en homoërotiese beeldspraak wat ingebed is in die tydsgees en kultuur van sy era. Rumi word eerstens bekendgestel en daar word verwys na die hoë lof wat geleerdes op die gebied van die Persiese letterkunde hom toeswaai. Van die 18de eeu af verskyn vertalings van sy werk in Frans, Duits en Engels in die Weste. In veral vertalings wat onlangs gepubliseer is, word die oorspronklike betekenis van sommige verse skeefgetrek, as sekulêr voorgehou, en vir die New Age-beweging toegeëien. As illustrasie hiervan word ’n paar foutiewe vertalings aangehaal en teenoor die korrektes gestel. Daar word beklemtoon dat Rumi ’n diep gelowige Moslem en Soefi was en dat sy poësie getuig van sy intense liefde vir God. Daarna word Rumi se biografiese besonderhede uiteengesit en Soefisme, insluitend sekere aspekte van die Soefi-kosmologie asook die Soefi-benadering tot liefde, kortliks verhelder. ’n Kort bespreking oor sy werk volg. Erotiese metaforiek en die verband met die mistieke word hierna bespreek en daar word uitgewys dat die erotiese van die vroegste tye af in talle godsdienste benut word om die verhouding met die goddelike uit te beeld. Hierna kom Rumi se erotiese en homoërotiese metaforiek aan die beurt. Die heersende sosiale en kulturele omstandighede van daardie era word verhelder en daar word aangetoon waarom dit in die lig hiervan begryplik is dat Rumi homoërotiese metafore benut het om sy liefde teenoor God uit te druk. Laastens word Engelse vertalings van gedigte uit Rumi se oeuvre waarin erotiese en homoërotiese beeldspraak voorkom aangehaal met verduidelikende aantekeninge.
English Else
What problem does this paper attempt to address?